Pages

Sunday, 17 July 2011

Oos, wes...

Uiteindelik is ons almal weer tuis...maar dit was nie sonder moeite nie!

Ons het afgelope Donderdag vroeg vanaf Covenant College vertrek.  Gelukkig het Jacomien ons bederf met 'n meneer van ontbyt, wat enige Jaco of Willie se maag sou vol maak!  Toe val ons in die pad, en ons eerste aand stop ons by Kariba meer.  Dis nou hoe 'n meer moet lyk!  Die kampplek was ook fantasties, met 'n kroeg wat op die 'strand' geleë is, met 'n bordjie - Beware of crocodiles!  Oulik.  'n Ander bordjie het gelees - beware of hippo's.  Die een mater wat daar gewerk het, het ons egter verseker dat hippo's jou vriend is, dus niks om te vrees nie!  Kariba meer was 'n goeie plek om moed te skep vir die pad vorentoe.

Die volgende dag is ons deur Lusaka, en siende dat Heinrich Track 4 Africa kaarte op ons GPS gelaai het, het dit aansienlik beter gegaan.  Eers het ons by Manda Hill Mall (Ja, n regte egte Mall!) gestop, en ons magies volgemaak met lekker Debonairs Pizza.  Toe is dit weer bakkies start, en die berugte Zambiese grenspos aandurf.

Hierdie keer was Dinant en Koot egter gewapen met 250 000 Kwacha elk, om nie weer gevang te word nie.  Alles loop toe ook sommer heel goed, maar helaas, ja, helaas was daar tog maar 'n kinkel in die kabel.  Die dame by die kantoor waar jy betaal vir die pond beweer toe dat ons nie die pond kan betaal met Kwacha's nie, want ons het 'foreign vehicles'.  Dus is Rande, Ponde, Euro's, Pula's en Dollars welkom, maar nie Kwacha's nie.  Dit help ook nie om met 'n regeringsamptenaar in Afrika te stry nie, dit is soos om met jou vrou te stry - jy gaan verloor.  Gelukkig was Eunice met haar rol dollars meer as bereid om ons daar uit te help, en kort voor lank was ons op die pond oppad Botswana toe.

In Botswana het alles geloop soos 'n Gereformeerde Sinode.  Ordelik en effektief. (lol!).  Behalwe dat ons lemoene gekonfiskeer is, want lemoene mag nie in Botswana in nie.  Dit maak nie saak dat ons dit van SA af gebring het, deur Botswana daarmee gery het, deur Zambie nie.  Lemoene moes bly.  Nou ja, nietemin is ons is toe so 15h00 deur die grense, en besluit om bietjie aan te stoot, en slaap die aand oor by 'n oulike kampplek, so 100km van Kasane af.  Daar kry ons toe die heerlike verassing dat hulle 'n restaurant het, want burgers en chips maak!  Dit het nie veel oortuiging gekos nie...

Volgende oggend vroeg op, en 06h00 val ons in die pad.  Hierdie keer wikkel ons lekker, en kom sonder enige boe's of ba's deur die Botswana en SA grens.  En weereens besluit ons om bietjie aan te stoot, en arriveer 14 ure se ry later, en 1400km in Centurion, Pretoria.  Daar slaap ons toe sommer oor by Dinant se ouers, wat beteken het dat ons nie kamp hoef op te slaan nie.  Dit was lekker, en nadat ons 'n middenagtelike biertjie geniet het, gaan slaap ons.  Die volgende dag (Sondag) kon ons slaap tot 7uur, want ontbyt was eers 08h00.  En dis hoe 'n ontbyt moes lyk.  Tannie Corrie Zwemstra het spek, eiers, worsie en toast gereed gehad, saam met 'n sappie, koffietjie, konfyt en kaas.  Mensig, dit was nou leeu lekker!!  En toe val ons in die pad vir die laaste skof Bloemfontein toe...

14h00 arriveer ons in Bloemfontein, en wag daar 'n hele erewag by die Pastorie.  Alma Kruger het ook gesorg vir bokse en bokse se pizza's wat ons almal saam genutig het, en toe moes ons groet.  Hartseer, maar waar.  Die voel soos 'n leeftyd wat in minute verbygevlieg het, gelukkig het ons hordes foto's om ons te herinner aan die goeie tye!

Terwyl ons saam die pizza gebruik het vir die doel waarvoor dit daar was, het Mari ons egter op die volgende gewys, en dit is sekerlik net reg dat ons dit noem:

Dinant was baie bevooroordeeld in sy blog-plasings ten opsigte van die Mazda/Toyota kwessie.  Die volgende feite is verswyg, en word nou genoem ter wille van volledigheid:
*  Die Mazda is 'n 4x4 en die Toyota 'n 2x4, en daarom dat die Toyota so nou en dan vasgeval het.
*  Die Mazda is 'n 2.5 en die Toyota 'n 3.0, en dis hoekom die Toyota eerder die boswaentjie deur die
    passe gesleep het.
*  Die Mazda moes meer gereeld by 'n dieselpomp gaan stop as die Toyota.
*  Die Toyota is wit.
*  Die Mazda ook.

Dankie vir almal se ondersteuning en gebede.  Ons is bitter dankbaar dat ons Hemelse Vader ons tot veilig tuis besorg het, ons besef dit is net genade.

Groete aan Covenant College.

Bloempark-Zambie Uitreik span
Dinant, Koot, Japie, Pieter, Marike, Mari, Eunice en Izanne

Wednesday, 13 July 2011

Time to say goodbye...

Vandag het ons die laaste paar dinge afgehandel.  Dinant het nog bietjie klas gegee, en moes daarna pose vir n magdom foto's saam met elke student, individueel.  Toe is die klere wat ons saamgebring het vir die studente uitgedeel, en die middag is ook weer rekenaar klasse gegee.

En toe, wel, toe begin ons maar afskeid neem van almal, want daar is 'n tyd van kom, en 'n tyd van gaan.  Vannaand het ons huisbesoeke gedoen, gekuier by al wat leef om vir almal totsiens te se.  Die Lachmans het ons bederf met 'n uitermate bo-gemiddelde leeu-lekker bord kos.

Nou ja, dit is nooit lekker om afskeid te neem nie, maar nie als in die lewe is net lekker nie.

Ons het vannaand ook 'n laaste besinningsvergadering gehad saam met Heinrich en Jacomien.  As dit een ding is wat uitstaan, dan is dit dat almal voel hulle gaan met meer hier weg, as wat hulle gekom het.  Dit was inderdaat 'n belewenis wat almal van ons nog lank sal bybly!

Die volgende paar dae se rit terug gaan stewig wees! Dinant en Koot kry al klaar koue koors en uitwendige hoendervleis as hulle aan die Zambiese/Botswana grenspos dink. Dit is mos maar 'n Jaco of Willie van ander kleur!  Gelukkig het ons 'n stewige klomp goed hier afgelaai, so die bakkies en waentjie is nie naastenby so gelaai soos wat dit was oppad hierheen nie.

Ons gaan sekerlik nie weer internetverbinding he nie, so dit is waarskynlik ons laaste plasing, tot ons weer in SA is.

Ons bid Covenant College se 'staff' al die seen van die Here toe, mag die werk wat hier gedoen word groei tot voordeel en uitbreiding van God se koninkryk.  Mag ons elkeen, op ons eie manier gebruik word as instrumente in Sy Hand.

Totsiens Heinrich, Jacomien en kinders, totsiens Marjanne, totsiens Phil, totsiens David, Katie en kind.  Totsiens Jackson, Nelson, Samuel en Bilison.

Laat Heer U seen oor hul daal...

Tuesday, 12 July 2011

Veels geluk liewe maatjie!

Vandag het Mari verjaar, en ek glo dat sy nog so mooi jonk is dat sy ons nie sal kwalik neem as ons haar ouderdom verklap nie – n volle 23 vandag!  Dus het ons haar vanoggend wakker gemaak, vir haar gesing, en ’n geskenkpakkie vir haar gegee met die beste wat ons in Petauke se ‘mall’ kon kry. 
Daarna is ons inderhaas na die opening van die College toe, waar ons geluister na die reiniging van die tempel, David Lachman (die Amerikaanse Skot of Skotse Amerikaan, ons is steeds nog nie seker nie...) vir ons gepreek het.  Die man mag maar preek, en ons almal het dit werklik opbouend gevind!  Daarna was dit tyd vir afkondigings, en vrae van die studente af – dit het nogals leeu-lank gevat, maar gelukkig het dit ook op ’n einde gekom.

Na opening moes Dinant bietjie klas gee, en dit loop soos volg:  een van die studente bid, en daarna is dit klas vir ’n uur, dan word daar afgesluit, en breek die studente vir 5 minute.  Daarna word daar weer geopen, klas vir ’n uur, en afgesluit.  Dinant was bietjie skrikkerig om klas te gee, omdat die meeste studente baie ouer as hy is, en langer in die bediening.  Maar, nadat hy vir hulle vertel het hy is getroud, en het kinders, het sy gesag aansienlik gestyg!  Vir Zambiane tel dit baie as jy getroud is, ongetroudes weet nie regtig waarvan hulle praat nie.  Selfs Cobus (Heinrich se seuntjie) het al daarin verval, en weier volstrek om Japie ‘oom’ te noem, want Japie is nog nie getroud nie!
Die afgelope 2 dae moes ons ook twee troepe aan die bed afstaan, siende dat een of ander inwendig Zambiaanse kwaal vir Pieter en Marike platgetrek het.  Gelukkig is daar min dinge wat goeie rus en slaap nie kan uitsorteer nie, en hulle is altwee weer stukke beter, waaroor ons dankbaar is.

Middagete het ons Mari met ’n slinkse plan gevang, en haar met ’n piekniek langs ’n klein dammetjie water, in die veld verras.  Chips, selfgebakte (deur Japie, Izanne en Heinrich) sjokolade koek, bottel water en marshmellows was op die spyskaart.  (Hiervoor is ’n vars pak marshmellows oopgemaak)  Ongelukkig toe ons wil terug ry huis toe, val die Toyota in die modder vas, maar die Mazda was daar, om nederig en getrou soos sy eienaar, die Toyota uit sy verknorsing te help. (Ek hoop Dirk Kruger lees hierdie blog...)
Die middag is ons toe in twee groepe opgedeel, om die studente rekenaar opleiding te gee.  Baie dinge wat vir ons vanselfsprekend is, is nie altyd so vanselfsprekend nie.  Ons moes fisies die studente leer wat is ’n ‘keyboard’, ‘mouse’, ‘screen’.  Hoe om MS Word oop te maak, hoe om te tik, hoofletters te tik, letters uit te vee en ’n dokument te ‘save’.  Maar dit is wonderlik om te weet dat mens darem iets nalaat as ons weggaan.  Dit is ook wonderlik om te sien hoe gretig die studente is om te leer, en hoe dankbaar hulle is vir die kleinste bietjie hulp wat hom kan vorentoe vat.  Werklik vervullend!

Die aand het ons Mari se verjaarsdag afgesluit met ’n braai (hoe dan anders?).  Steak en wors op die kole, saam met ’n braaibroodjie, slaai – liplek lekker!
Ons as groep is vreeslik mal oor die mense wat hier werk, dit is ’n gawe klomp mense om die minste te sê, alhoewel ons dink dat hulle dink ons is bietjie oorweldigend.  Veral Marianne (die Nederlandse dame wat met Christian Education Ministries werk hier) dink Suid-Afrikaanse mense is die gekste goed ooit!  Leeu-mal!  Ons is merkwaardig - in Nederlands beteken merkwaardig jy is 'weird'!  Maar ons het baie pret en plesier saam met haar!  Sy is ook van harte oortuig dat Suid-Afrika die vreemdste predikante het.  Gelukkig is ons almal haar baie liefgekry in hierdie kort tydjie, ten spyte van alles! ;-)

Nou ja, more is dit weer klasgee, rekenaaropleiding, en dan die groot pak, want Donderdag vroeg vat ons die groot trek terug huis toe.  Die aand is ons genooi vir ete by die Lachman’s, en dan is dit vir ons almal hier ’n tyd van afskeid.  Dit gaan verseker ’n hartseer oomblik wees, en ons sal maar die tissues naby moet hou...
Elkeen van ons gaan ’n stuk van ons hart hier los.  Dit is ongelooflik hoe die plek en die mense in ons almal se harte gekruip het. 

Terwyl die laaste woorde van hierdie blog-plasing geskryf word, kom die woorde van Johannes Kerkorrel se lied onwillekeurig by mens op: “Gee jou hart vir Hillbrow...”  maar dan pas mens hom net so bietjie aan, en terwyl jy ’n rollende traan van jou wang afvee, sing jy saggies: “Gee jou hart vir Zambië...”

Monday, 11 July 2011

MULIBWANJI (”Hoe gaan dit?” in Nanja)!

MULIBWANJI (”Hoe gaan dit?” in Nanja)!
Vandag word die blog oorgeneem deur die rompe!!  Vinnige update tot nou ... die warm winter van Botswana en Zambië was ‘n welkome verligting van Bloemfontein (en Groot Marico, aand 1) se ysige leeu-koue!  Botswana is ‘n veilige, pragtige land en hulle paaie lyk baie beter as meeste paaie in Suid-Afrika.  Die versameling olifante, kameelperde, bokke, krokodille en seekoeie bymekaar is verstommend!  Ons monde het oopgehang en kameras het geflits soos menigte van hierdie diere om elke hoek en draai en agter elke boom en bos vir ons gewag het.  Daar is egter ‘n aansienlike verskil tussen Botswana en Zambië ... hier is die paaie slegter en die geboue baie meer vervalle.  Victoria valle was asemrowend!!  Ons was omtrent nat aangesien dit in alle rigtings “reën” a.g.v die sproei van die waterval.  Wat ‘n belewenis!!
Na ‘n rowwe dag in Lusaka en oppad Petauke toe, het ons uiteindelik veilig by die Covenant College gearriveer.  Japie, die drywer van Bakkie BA op die dag was reg om die grond te soen toe ons aanland aangesien aankomende verkeer gesorg het vir ‘n paar senutergende oomblikke!  Al ons dames moes toe natuurlik rompe aankry, want aangesien Petauke in ‘n landelike gebied is en nog baie konserwatief is, moet ons knieë te alle tye met ‘n romp bedek wees.  Knieë, heupe en boude is vir die plaaslike bevolking baie seksueel.  In daardie volgorde!  ’n Man mag eers aan jou knieë vat wanneer jy getroud is.  Wys mens maar net vatsoenlikheid maar deur kultuur bepaal word!
Dag 3 by Covenant College (Sondag)
Wat ‘n dag!!  Ons almal was redelik uitgeput na die afgelope paar dae se tydverdrywe en was baie opgewonde om te hoor dat ontbyt eers 8h00 genuttig kon word.  LEKKER LAAT SLAAP!!  Ons moes egter vroeg genoeg na kerk vertrek want daar was aan ons verduidelik dat die 8 km se ry, so 30 minute vat!  Dis ook goed gedink dat ons almal in EEN voertuig moes gaan .... 13 en ‘n half mense in ‘n dubbel-kajuit bakkie!  When in Rome...
Almal ryg toe soos sardientjies in die bakkie in en stadig maar seker durf ons die baie nou ‘pad’ avontuurlustig aan.  Dit is nou nadat Heinrich die bakkie agter eers met n tuinslang uitgespuit het, en met die kleinste lappie denkbaar probeer droog maak het.  Ek is seker ek praat vir almal as ek sê dat niemand verwag het wat sou volg nie.  Die ‘village’, Kalimbalika, bestaan uit ‘n paar ylverspreide modderhutte, met hoenders, varke en bokke wat orals sommer rondloop en die kerk, Mankokwe, is toe ‘n klein modderhuisie en ‘n area wat afgebaken is met houtstompe en grasgerwe en geen dak.  Dit is toe nou ook so dat die wolke opgetrek het en dat dit liggies reën.  Marike, Mari, Eunice en Izanne eindig toe op die gevlegde matte terwyl Dinant (wat moes preek), Oom Koot, Heinrich, Jacomien, Japie en Pieter op stoele onder die enigste afdak by die ‘preekstoel’ sit.  Ons is egter almal soos VIP’s behandel want terwyl ouer mans en dames, vrouens met babatjies en kinders in die reën op die vloer sit, word daar sambrele en sambrele vir ons dames aangedra!!  Hoe meer ons dit vir die ma’s en babatjies probeer gee sonder om aanstoot te gee, hoe meer sambrele bring hulle vir ons!  Ons almal is waarlik terug aarde toe gebring en nederig gemaak met hoe Zambiërs lewe, hoe vriendelik en mededeelsaam hulle is met die min wat hulle het. 
Om ‘n uur in ‘n preek te wees is klein skippies, want ons was vandag in kerk van 10h00 tot 12h45!!  Eers sing al die verskillende kore en daarna word daar ‘n storie uitgebeeld, wat hulle ‘n ‘sketch’ noem en daarna is die preek, praatjies en afkondigings. 
Vrouens staan mos maar bekend as die sterker geslag en dit was net weereens bewys (behalwe vir die feit dat ons uitmuntende chefs en allemintige skottelgoedwassers is), omdat ons in lang rompe, op die grond moes sit vir 2 en ’n driekwart uur en elke dan en wan opstaan vir samesang...SONDER OM ’n KNIE TE WYS! ... terwyl borsvoeding tydens kerk langs ons plaasgevind het om die hongerpyne te bekamp!  Vandag was daar egter ook ons verwelkoming waar ons almal persoonlik met die hand gegroet is en daar toe vir ons gesing word....en toe moet ons sing!!  Blitsvinnig ontaard ons toe in die Bloempark-Zambië-sang-brigade en trek los met onder andere, Juig al wat leef, Prys die Heer met blye galme en Laat Heer U seen!  Ons het ‘n ordentlike handeklap ontvang na die tyd...egter nie ‘n ‘encore’ nie.
Na die tyd is ons vergesel na die plaaslike dominee se modderhut en daar is ‘n heerlike ete vir ons voorgesit, wat bestaan het uit pap, groente en hoender.  Daar kon ons hande was in ‘n emmertjie, want daar bestaan nie iets soos messe en vurke nie.  Dit was ‘n wonderlike ervaring en ons almal is met sagte harte terug Covenant College toe. 
Verder was dit ‘n luilekker Sondagmiddag en meeste het ‘n rustige middagslapie geniet. 
Aangesien ons op dag 2 by Covenant College ‘n koelerboks ontdek het met lekker vrot maalvleis en tamaties in, moes ons menu bietjie aangepas word en het Japie en Pieter aangebied om pizza te maak ... van ‘scratch’ af!  So sluit die awesome Sondag toe af met ‘n amazing fliek en heerlike piZam!
Dag 4 by Covenant College (Maandag)
Mari het ‘n nuwe liefde vir marshmallows ontdek op hierdie toer en dis oggend, middag of aand genuttig ... dis toe nou ook hierdie oggend wat sy en Japie ontdek dat die marshmallows waaraan hulle so lekker smul bietjie taai is op plekke en sulke oulike tandjie merke het!! Die mallows was toe nou nie net amazing nie, maar ook a-MUIS-ing!!
Na ‘n laat aand was almal maar traag om aan die gang te kom vanoggend, maar uiteindelik is Dinant en Izanne met chips en ‘n sokkerbal na ‘n plaaslike skool, terwyl Pieter en Japie die sokker ‘posts’ klaar gebou het en die res verder aan die biblioteek gewerk het.  Na baie BAIE swoeg en sweet in die stinkende kamer (vlermuise het die plek ordentlik be..uhm...vuil!) is die biblioteek toe nou uiteindelik in ‘n bruikbare toestand.  Dit was great om die vordering te kan sien gebeur!
Oom Koot is tans besig om ‘n allemintige hoenderpot vir ons aanmekaar te slaan.
Was toe leeu-lekker!

Izikomo! Dankie!
Groete,

Die Bloempark-Zambiê-sang-brigade!

Sunday, 10 July 2011

Sondag by Covenant College

Vandag het ons geleentheid gehad om bietjie later te slaap, omdat ons 'n kerk gaan besoek het.  Die kerk begin eers om 10h00 uur, en dit is 5km (halfuur se ry...) van die college af.

Eintlik kan mens nie laat wees vir enige iets in Zambie nie, ook nie vir kerk nie.  Die gemeente sal bloot eenvoudig net vir jou wag, en die diens begin wanneer die prediker opdaag.  Vandag was oulik, want ons het buite die kerkgebou kerk gehou, daar was te veel mense om almal binne in te pas.  Die rede daarvoor was dat 'n klompie gemeentes van Donderdag af 'n konferensie van een of ander aard gehad het, en daarom was daar 'n klomp lidmate. 

Met die aankomsslag is die mans begelei na stoele onder 'n riet- en grasafdak, terwyl die dames maar op 'n matjie op die grond moes sit, selfs toe dit saggies begin reen.  Hier loop die dinge nog bietjie anders...

Uiteraard het elke gemeente ook sy eie koor, en moes elke gemeente ook die geleentheid kry om sy koor te laat sing, en self 'n opvoering of twee te doen.  Die gevolg was dat ons 'n volle 2 en driekwart uur kerk gehad het!  Tydens die diens het Dinant ook gepreek, deur middel van 'n tolk.  Hy het egter 'n glipsie gehad, omdat hy 'n beeld wou gebruik van 'n skip wat op see vaar.  Hier is die tolk bietjie onkant gevang, want Zambie het nie 'n kuslyn nie, en weet nie hoe die oseane lyk nie.  Maar verder was die tolk uitstekend, as iemand Njaja praat, tolk hy Engels toe, en ook andersom.  Pastor Zulu, noem hy homself, en is 'n pastoor in die Zambian Baptist Fellowship, maar die naam en denominasie hier maak nie saak nie, solank jy net in 'n kerk is.  In daardie opsig kan mens baie by hulle leer! 

Kollektes is ook gehou, en die kollekte word getel terwyl die res van die diens aan die gang is.  Dan word die bedrag aan die gemeente bekend gemaak, en raas die Pastor Zulu eers bietjie, want daar is eintlik te min, maar ons het n vermoede dit is standaard praktyk.

Na die diens het almal die geleentheid gekry om ons hande te skud, terwyl hulle singend by ons verby beweeg.

Na kerk het hulle vir ons 'n tafel gedek binne in een van die pastore se hutjie.  Dan begin die ete soos volg: daar word gebid, dan word 'n skottel omgestuur sodat elkeen sy hande kan was.  Dan kry elkeen 'n bordjie of bakkie, en skep sy kos vir hom in, met die hande.  Hoegenaamd geen kombuisgereedskap nie.  Die ete bestaan uit mieliepap, hoender en 'n koolmengsel.  Ons almal het dit baie geniet, en die kos was regtig geurig.  Die hoenders hier word eers geslag as sy nie meer eiers kan le nie, dus was die hoender so bietjie aan die taai kant, maar as jy eers die vleis van die been af het, gaan dit beter.  Jy eet ook met jou hande.  Ons almal het maar met twee hande geeet, maar eintlik eet mens net met jou regterhand, want die linkerhand gebruik jy vir toilet...

Nou ja, toe kon ons weer huiswaarts keer, en was so om en by 2uur tuis.  Toe was dit tyd vir 'n allemintige middagslapie.  Die dag het ons afgesluit met n paar stewige pizza's wat Pieter en Japie vir ons aanmekaar geslaan het, en gekuier en nog gekuier saam met Heinrich en Jacomien.

Dan is dit weer tyd om te gaan slaap, want more oggend om kwart voor 8 vertrek Dinant en Izanne saam met Marianne na een van die skole toe, terwyl die res weer bietjie die biblioteek verder gaan probeer agtermekaar kry.  Dan moet al die klere wat ons gebring het, ook uitgesorteer word.
More aand daag die studente ook weer op, na die vakansie, en begin die nuwe kwartaal hier by Covenant College.

Groete vanaf almal hier!

Saturday, 9 July 2011

Dag 1 & 2 by Covenant College (Japie)

Nee kyk, kamp is lekker maar daar is min dinge wat kom by ‘n aand se slaap op ‘n regte bed!  Nadat Heinrich en Jacomien  ons  die vorige aand goed bederf het met ons aankoms het ons die volgende oggend lekker laat geslaap.  Dit was immers ons laaste kans vir leeglê.
Ons het die oggend van ons eerste dag op “kampus” by Bethlehem, (die huis waar die meisies bly) met ‘n stewige laat ontbyt (koffie en beskuit) begin.  Ons het toe vinnig die program vir die week deur gegaan en kort daarna het ons dit ook sommer afgeskop.
Phil (die Amerikaner & hoof van die Farming God’s Way projek by die College) is ‘n absolute legende.  Hy het ons ‘n “crashcourse” gegee in alles wat op die plaas en in die boerdery aangaan.  Dit is ongelooflik hoe hy die Woord gebruik het om ‘n eenvoudig-unieke en baie suksesvolle  konsep van boerdery te vestig.  Hy en sy span (Jackson en Samuel) dra ook die kennis aan die gemeenskap oor om sodoende die plaaslike boere (waarvan meeste bestaansboere is) te help om die meeste te maak van die bietjie wat hulle het.  Phil is ‘n bondel energie en dit is heel waarskynlik die hoof rede vir die omvang en diversiteit van wat op die plaas aangaan – hier kry jy enige iets van varke tot koffie, hasse tot chillies (Dinant en Japie was belaglik genoeg om aan die chillies te proe en dit het hulle met trane in die oë gelaat), mielies, hoenders, bye en natuurlik ‘n plant waarvan tee gemaak kan word om  Malaria die skrik op die lyf te jaag.

Phil is fanaties oor die organiese aard van die boerdery.  Hy doen dit in sy eie woorde nie om “groen” te wees nie maar bloot omdat dit prakties is.  “Nutritious” en “Nutrients” is sy gunsteling woorde en meeste van die bome en plante wat hulle kweek bevat minstens 12 ton daarvan.  Hulle het selfs twee klein sillos opgerig om die oeste in te stoor, om nie te vergeet van die steenoonde wat die bakstene voorsien waarvan al die geboue by die kollege gebou is.
Die res van die dag het sy gang gegaan, koffie is gedrink, klere is gewas en voor jy kon sê “nutrient”staan die volgende bord kos toe weer voor ons (dit alles te danke aan die kookvernuf van Mari en Marike).

‘n Baie lekker eerste dag het toe ook soos al die goeies voor hom tot ‘n einde gekom.
Dag 2

Laatslaap is defintief vir eers iets van die verlede.  Dag twee by Covenant College het met ‘n “bang” begin en het nie regtig momentum verloor voordat ons gisteraand die meeste van die lede kort na aandete aan Klaasvaakie en sy makkers afgestaan het nie.
Koffie was soos elke ander oggend die hoof bestandeel van ontbyt (die kans dat dit sal verander is skraal) en dit wat daarmee saam genuttig word is bloot ‘n bysaak of persoonlike voorkeur as jy wil.

Ons het die kans gekry om Petauke, sy mense en sy dinge van nader te bestudeer.  Izanne, Marike en Mari het vroeg-vroeg die pad dorp toe met Heinrich as toerleier aangepak.  Pieter, Eunice en Japie het saam met Mariana ( die Hollander en jeugwerker van die kollege) plaaslike skole en die kinder kliniek besoek.  Koot en Dinant moes egter op die plaas agterbly om vir Phil te help om ‘n erdwurm boerdery op die been te bring en het sodoende die reeds indrukwekende verskeidenheid van aktiwiteite op die plaas nog bietjie verbreed.
Petauke se straatmark is ‘n georganiseerde-chaos as jy al ooit een gesien het, die organiseerder is net nerens te vind nie.  Dit is ‘n belewenis soos min om te sien hoe die “locals” tweedehandse items verkoop soos splinternuwes, gedroogte vis eet soos ‘n stuk biltong en hoe hulle die kuns van “bargaining” vervolmaak het...hier koop jy ‘n stel redelik gemaklike vis-plakkies vir 4000 Kwachas of R6!

Die besoek aan die skole was ‘n ervaring wat selfs groot mans ‘n bietjie bewoë sou laat.  Ons het eers ‘n klein gemeenskap skool besoek wat net uit graad 1’s en 2’s bestaan, maar die ouderdom wissel tussen  vier en tien jaar oud (dit gee jou ‘n idee van hoe dinge hier werk – meeste van die kinders weet nie eers hoe oud hy of sy self is nie) .  Die naam van die skooltjie beteken in engels “to leave a footprint”, en met dit in gedagte het ons ‘n tydjie daar spandeer.  Die kinders hier was in ‘n intense sokker wedstryd betrokke met ons aankoms en die ongelooflike hiervan was dat hulle met’n bal wat van plastieksakke gemaak is gespeel het.  Ons kon hulle gelukkig hier uithelp met’n splinter nuwe “regte” sokkerbal, en toé speel hulle.  Daar was aan die einde nie regtig ‘n wenner nie, maar glimlagte was in oorvloed (dit was immers die doel van ons besoek).
Die volgende stop was by ‘n “volwaardige” laerskool soos ons dit noem.  Hier probeer hulle graad1’s tot 7’s meer leer van lees, skryf,die Bybel en enige ander basiese vaardighede (met die klem op probeer).  Graad 1-7 sit in dieselfde klein geboutjie (waarin stukkende vensters volop is) en word deur dieselfde onderwyser geleer van watookal hy of sy weet.  Hier is Eunice gevra om met gebed af te sluit en sy het onder redelike druk bewys dat sy in die pastorie groot gemaak is.  Pieter en Japie het die groter seuns in ‘n game “Afrika-sokker”  aangevat.  Pieter is herdoop tot “Pieda” en Japie was vir die duur van die wedstryd bekend as “Joppie”, en kyk hierdie outjies kan hardloop en dan nog bietjie hardloop.

Nadat ons die veld (nie sonder beserings) verlaat het is ons na die kinder kliniek in Petauke toe.  Eunice het haar handgemaakte poppe aan die hoesende en huilende kleintjies uitgedeel (‘n volle 24 van hulle).  Sommiges was meer beindruk as ander, maar niemand is met leë hande agter gelos nie. 
Dit sal verkeerd wees om nie ‘n spesiale getuines van Mariana se werk te gee nie.  Sy laat ‘n baie moelike taak belaglik maklik voorkom en iets wat ons in ‘n paar uur emosioneel en fisies uitgeput het is maar haar dagtaak.  ‘n Merkwaardige vrou!

Friday, 8 July 2011

Covenant College (Dinant)

Dit is baie interessant dat 'n groep wat so saam toer later sy eie taal onwikkel, en dit is maar 'n mengelmoes van woorde wat ontstaan, en nie almal verstaan dit nie.

So het Koot ons byvoorbeeld geleer dat die woord 'leeu' voor enige iets geplaas kan word om dit in 'n oortreffende-oortreffenste trap te gebruik.  Dit kan warm wees, baie warm, onuithoudbaar selfs, maar as dit leeu-warm is, dan moet jy weet!  Enige iets kan ook geleeu word.  Kos kan leeu-lekker wees, die pad kan leeu-ver wees, en daar kan leeu-baie slaggate wees.

Japie is weer lief vir die woorde 'hectic' en 'intens'.  Hectic of intens kan in enige situasie gebruik word, en kan positiewe sowel as negatiewe betekenisse he.  Jy kan dit selfs saam gebruik, as iets hectic intens is, dan was dit of baie oulik, of glad nie lekker nie, maar afhangende van die gesigsuitrukking kan mens dit reg interpreteer.  Chobe was hectic, selfs hectic intens, maar so was die Zambie grenspos ook, en dit dui op heeltemal verskillende ervarings.

'n Ander uitdrukking is 'O, Jaco!' of 'O Willie!'.  Japie en Pieter is veral verlief op hierdie uitdrukkings.  Ek is nie seker wie Jaco en Willie is nie, maar ek dink elke mens mag maar vir homself enige naam kies om skok, verbasing, skrik of enige ander emosie uit te druk.  Weereens kan dit of goed of sleg gebruik word.  Dit kan ook gebruik word as 'n plaasvervanging van woorde wat jy nie kan onthou nie.  Maar dan kan dit soms verkeerd uitkom.  Byvoorbeeld, as jy iets wil se oor klem in die kaak, maar jy vergeet die woord 'kaak' dan voeg jy net eenvoudig 'Jaco' of 'Willie' in.  Ongelukkig gaan nie almal jou verstaan as jy vir hulle vertel jy het n 'klem in die willie' nie...

Om 'kapsie te maak' dui in normale Afrikaans daarop om beswaar aan te teken oor iets.  Pieter het ons egter daarop gewys dat dit ook universeel gebruik kan word.  'n Bord kos kan byvoorbeeld kapsie maak, bedoelende dit is baie lekker, maar 'n krokodil kan ook kapsie maak, bedoelende hy is gevaarlik.

Die laaste woord vir vandag se les is die woord 'mal'.  Mal-baie, mal-lekker, mal-cool, ag, enige iets kan mal wees.  Maar as 'n ding mal-hectic-intens is, dan ou maat, sal jy moet kapsie maak om enige Willie of Jaco naby dit te bring!

BY DIE COLLEGE

Vandag het verskillende dinge gebeur.  Japie, Pieter en Eunice het 'n skool of twee gaan besoek, waar hulle met die kinders gespeel het, en sokkerballe oorhandig het.  Die vreugde was oorweldigend, maar Japie gaan eersdaags meer daaroor skryf op die blog...

Die ander meisies was saam met Heinrich Petauke toe vir inkopies, en dit is baie interessant wat jy daar kan kry - klere, gedroogte wurms, gedroogte vis van alle soorte, radio's, selfs bande en 'n tweedehandse dryfas van 'n bakkie of trok wat iemand erens opgetel het, en wil verkwansel. 

Die middag het die dames bietjie die biblioteek aangeval, siende dat 'n swems vlermuise daar ingetrek het, en op alles gemis het.  Eintlik die boeke raak gemis het.  Dus moet alles skoongemaak word!  Hierdie taak is nog nie afgehandel nie, en more sal daar voortgegaan word daarmee.

Die uwe, sy eerwaarde die skrywe van hierdie stuk, en Koot was by die plaas, en het saam met Phil (die plaasbestuurder) 'n plek gebou waar Koot se geliefde erdwurms kan woon.  Met stene het ons 'n houer gebou, met plastiek hom uitgevoer, en grond en wurms binne in gesit, en bedek met gedroogte gras om die vog binne te hou, en viola, daar is 'n mal-cool kompos-makende sisteem!  Natuurlik en effektief.  Het jy geweet 'n erdwurm is tweeslagtig (manlik en vroulik), en as jy hom in die helfte breek is daar eenvoudig twee wurms.

Die middag is ons saam met Phil dorp toe, om hoenders te gaan verkoop aan 'restaurante'.  Dis interessant.  Hoenders word uiteraard lewendig verkoop, en soos wat die kliente die kos bestel, word die hoenders geslag.  Varser as dit gaan jy nie kry nie.  Hoenders het hoegenaamd geen reg op lewe in Afrika nie, en selfs kinders van 3 jaar sal nie 'n oog knip om een keel af te sny nie.

Die merkwaardige van die middag was dat 'n vrou op die plaas gou-gou onder 'n grasdak gekraam het.  'n Paar uur later, en sy gaan gewoon aan met haar werk!  En ons dog die boere-tannies wat kaalvoet oor die berge is, is taai!  Kinders kry is iets wat die Afrika-mens verstaan.  Een van die werkersters op die plaas is byvoorbeeld 34, en al twee keer ouma!

More gaan ons voort met biblioteek skoonmaak, en die 'generator' moet gediens word, en die middag is hier 'n kinderbediening van ongeveer 100 kinders.  Die aand kuier ons dan saam met al die mense wat hier doenig is, en dit word 'n 'food and fellowship' genoem.

Nou ja, groete vanaf almal hier!  Ons klets een van die dae verder...

Thursday, 7 July 2011

DIE REIS VANAF GROOT MARICO NA PETAUKE

Hoe dieper mens in Afrika ingaan, hoe interessanter word die pad!  Botswana het ons almal egter verbaas.  Ons is deur die Suid-Afrikaanse grens, en meer ongeskikter grens-beamptes kan mens nie kry nie, maar ons almal ken maar die dinge in SA.  Aan die Botswana kant was dit egter ’n heel ander storie!  Die mense is gaaf en behulpsaam, maak grappies, en heet jou welkom!  Wat ’n belewenis, en die snaakste van alles is die paaie – splinternuut, sonder tolpaaie.  Ons gooi sommer diesel in by die eerste petrolstasie wat ons sien – Puma.  Daar kry ons Puma-diesel vir R7,35/liter.  Dis sommer ’n plesier, mens ref sommer die bakkie ekstra hard, net omdat jy kan!  Botswana is mal-cool, om hedendaagse Afrikaans te gebruik!

Die eerste aand in Botswana slaap ons in Francistown, by ’n kampplek met die naam Tati.  Die interessante was dat toe ons daar aankom die prys 75 Pula per persoon was, maar omdat hul kaart masjien af was, kon ons eers volgende oggend betaal.  Die volgende oggend was daar ’n ander dame aan diens, en toe is dit maar 50 Pula per persoon.  Maar dit was heerlik om lekker warm te kan stort, om ’n vuurtjie te kuier en sommer net die aand te geniet!  Die een paal wat die tent-waentjie se tent regop hou het op ’n manier gebreek, maar daar is niks wat ducktape nie kan regsien nie! 
Volgende oggend is ons op, en na ’n Oatso-Easy in die maag, vat ons die pad Chobe toe.  Daar aangekom, sukkel ons toe om ’n kampplek te kry, want die GP’ers is die plek vol!  Gelukkig is een van die eienaars van die lodges daar baie vriendelik, en bel vir ons ’n klompie plekke, en kon ons ’n slaapplekkie kry vir die aand.  Baie lekker rustig, en teen hierdie tyd slaan ons al kamp op, vinniger as wat jy Botswana kan sê.  Kort voor lank is ons weer om ’n vuurtjie van paar stukke hout vir 15Pula.  Hier slaap ons twee aande, dus was dit nie nodig om die volgende oggend saam met die olifante op te staan nie.  En ’n goeie afwisseling op koffie, beskuit en Oatso-Easy was ’n ontbyt van spek, eiers, uie-ringe en brood!  Wat ’n fees! 

Nou ja, so raak dit toe nou tyd om Chobe toe te gaan, en 120Pula per persoon later is ons in.  Mense, wat ’n mal-hectic-kapsie-makende-belewenis!  Chobe is nie perde koop nie (om sy edele Pieter Vermeulen aan te haal).  Dit is sekerlik van die oulikste plekke hierdie kant van die ewenaar!  Dis olifante sover as wat die oog kan sien, om van die seekoeie nie eers te praat nie!  En kameelperde, arende, vlakvarke, bokke, koedoe’s, selfs ’n allemintige likkewaan wat die pad oorgesteek het!  Uit die aard van die saak maak so klomp vleis by mekaar mens honger, dus stop ons toe maar langs die Chobe rivier om ’n ete te geniet van sappies, kasies, Pro-vita’s, appels en muesli-bars.  Self ’n biertjie was nie te versmaai nie.  Dit was Koot wat met sy skerp wilds oog ons daarop gewys het dat die krokodilste krokodil nie ver van ons af lê en slaap nie!  Van die manne is toe ook nie links nie, en storm soos wafferste chinese toeriste met kamera’s nader om ’n close up-foto te kry soos wat crocodile dundee nog nie kon kry nie, tot ’n veldwagter se groot ontsteltenis!  Toe ry ons maar verder, en dit was nie lank nie, toe val die Toyota in die sand vas, en nie eers Chuck Norris kon hom daar uithaal nie (en Chuck Norris kan nie net op water loop nie, hy kan ook op land swem!).  Darem, ja, darem was daar ’n Mazda wat sommer gou-gou die Toyota kon uitsleep!  Die awesomeness hou nie op nie, en daar is nog vele diere wat voorlê, maar die son sak ook in die Chobe, en moes ons begin om weer kamp se kant toe te staan, maar helaas, en die Toyota steek vas soos ’n Afrika donkie in die sand.  Hierdie keer kon ons egter hom daaruit kry sonder die Mazda.  Toe ons wegtrek kon ons hoor hoe die Mazda onderlangs grinnik soos die maag van ’n honger Chobe-leeu.
Nou ja, nadat die bure die jonges stil gemaak het, kon ons gaan slaap, sodat ons die volgende more sommer vroeg oor die grens Zambie kan ingaan.  Ons wou toe natuurlik eers die bakkies se tenks volmaak met goedkoop diesel, maar helaas, die Engen het nie diesel nie.  Dit kos toe ’n hele klomp kilometer terug ry, om ’n Shell te kry waar ons kon volmaak.  En nadat ons verby ’n ry van 51 trokke gery het, kom ons by die grenspos... En toe is dit die grenspos...!

Eers moet mens oor die Zambezi rivier met ’n pond.  Daar staan drie ponde, maar twee werk nie meer nie, en THIS IS AFRICA, so niemand is lus om hulle reg te maak nie.  Daar is mos nog een wat werk!  Sy ramp kan egter ook nie meer oplig nie, dus stoop hy maar die ramp deur die water, en stamp hom teen die kant.  En as hy staan, stroom die mense van hom af, en moet jy roer om met die bakkie op te kom.  Saam met die bakkie stroom die helfte van Botswana se bevolking ook op, en dan stamp hy so 10 minute later die ramp aan Zambie vas, en roer jy om af te kom.  Dit was nou nadat ons kamera-mal fotograaf (Eunice) alles keurig en dubbel, van alle hoeke af afgeneem het.
By die Zambie-grenspos kry Dinant en Koot amper ’n dubbele hartaanval, drie beroertes, nierversaking en inwendige Cholera.  Kyk, bietjie chaos is lekker, maar die chaos op Zambie se grenspos is onbeskryflik en onbegryplik.  Almal stop waar hulle wil, en dan raas die hekwag met jou omdat jy daar stop, en as jy vra waar moet jy stop, ignoreer hulle jou.  Dan kry jy manne wat jou gryp, en jou help om te gaan waar jy moet gaan, hulle druk jou sommer voor in die ry in vir die paspoorte se stempel, maar there is no such thing as a free lunch!  Ongelukkig word Dinant en Koot gevang met geen Kwacha’s (Botswana het nie gehad nie), en net Pula’s, rande, en dollars.  En telkens dink die manne sommer hul eie wisselkoers uit.  Byvoorbeeld, die normale wisselkoers vir Rand/Kwacha is 700K vir R1.  Die manne werk dit daar uit op 300K vir R1.  Toe Dinant vir die ou sê dat die rentekoers anders is, sê hy eenvoudig dit is die rentekoers hier op die grens.

Gelukkig is ons daar weg, met leë beursies, maar ons het darem ons geloof behou, en soos goeie doppers nog vriendelik vir almal gewaai ook!
Toe is dit Livingston, en die Vic-valle.  Mensig, soveel water het Chuck Noris nog nie eers gesien het, en wat ’n gesig!  Jy moet die self sien om dit te beleef.  En ons het maar reënjassies gehuur om droog te bly, want jy reën fisies en letterlik nat van die sproei van die valle.  Dit maak ’n mens nederig voel en ons almal het net weer die Almag en Grootheid van ons Here besef...

As mens die grensposte vergeet, is Zambië ’n interessante land!  Die mense is vriendelik, en die polisie manne wat jou elke nou en dan aftrek stel nie belang in jou lisensie of enige iets nie.  Hulle wil net ’n bewys hê dat jy derde party versekering het, dan voel hy beter, en mag jy weer ry.
Afrika bly egter Afrika, en ons GPS het toe nie Lusaka se strate op nie, met die gevolg dat ons agter ons neuse begin aanry, en in die grootste verkeer gemors beland op die derde planeet van die son af.  Bane is opsioneel.  Verkeersligte is daar om oortollige krag te gebruik, en rooi beteken enige iets behalwe stop.  Marike en Koot was die twee bestuurders wat egter kop gehou het, ten spyte daarvan dat die res van ons nou nog aan ligte breinskade lei van stress.  By die een vulstasie rol daar ’n ‘random’ band uit ’n plek uit, in Koot se nuwe Toyota Legend 40 in!  Gelukkig geen skade nie!

In Lusaka het jy die voorreg om diesel in jou bakkie te gooi, en dit kos jou om en by 800 000 Kwacha!  Dink bietjie daaroor...
Nou ja, gelukkig kry ons ’n mall, en dit is ’n stuk beskawing in chaos.  ’n Eiland in die see van verwarring.  ’n Oase in die woestyn van mal-hectic-verkeer.  Nie knope nie, glad nie, die verkeer vloei, of dit nou kan of nie, dit vloei!!  By die mall kon ons ’n heerlik broodjie eet vir 32 000 Kwacha.

Goeie goed kom ook tot ’n einde, en val ons in die pad.  Gelukkig was die Chinese regering baie gaaf, en het ’n netjiese pad met ’n sirkel en alles vir Zambie gebou, en is ons op die Great Eastern Hiway.  Dit is nie great nie, ook nie ’n highway nie, maar dit is Eastern, wat belangrik is, want dit is waarnatoe ons wil gaan. 
Zambië se nasionale vervoermiddel is fietse.  En ’n fiets kan enige iets doen, hy kan gebruik word as ’n kruiwa – jy laai hom met alles, en stoot hom dan.  Of ’n taxi.  Jy trap, en laai ’n vrou en ’n kind of twee agter op.  Dit kan ook gebruik word as ’n lorrie, jy rol twee drie-meter sinkplate op, en maak dit aan die kant van die fiets vas.  Ongelooflik.  Die fietsers hier ry ongelukkig waar hy kyk, as hy dus ’n kar hoor aankom, kyk hy om, met die gevolg dat sy fiets ook draai, en as jy nie wakker is nie, sal jy sommer oor hom ry!

Nou ja, ons kom die aand laat by Moorings aan, en nou slaan ons al kamp op, vinniger as Chuck Norris, vir die bargain prys van 25 000 Kwacha/persoon ($5 pp).  Heerlik, daar is krag, maar hier gebruik hulle die Engelse proppe, en niemand het adapters nie, maar wie soek nou krag as jy gas het?  Moorings is die plek se naam, en ons is die enigstes daar, so niemand kom maak ons stil nie, maar almal is elk geval moeg.
Volgende dag, vroeg oggend begin een of ander aap sy kar se radio speel (ons het ’n vermoede dit was Dinant), dus staan ons toe maar op, eet Oatso Easy, en val weer in die pad vir die laaste stuk na Petauke toe.  Die pad tot dusver was lekker, maar nou is daar slaggate waarin olifante verdrink, so elke nou en dan moet jy kies tussen ’n groot gat en ’n groot gat.  Dan kies mens maar die groot gat.  Die interessante is as daar ’n bus of trok van vooraf kom, en hy en jy besluit om dieselfde groot gat te mis, maar in dieselfde rigting.  Ons is deur die passe, oor die Luanga rivier, en in die donker by Covenant College.  Gelukkig is Heinrich en Jacomien toe reg vir ons, en kort voor lank smul ons soos honger honde aan ’n heerlike bord kos.  Hier hoef ons darem nie kamp op te slaan nie, en kon ons almal heerlik in ’n bed slaap...

Nou ja, hier het ons darem weer internet, so ons kan hierdie blok meer gereeld opdateer, so hou maar dop...
Tot volgende keer!

Groete!

Bakkie AB (altyd betyds): Dinant, Eunice, Izanne, Marike.
Bakkie BA (bietjie agter): Koot, Japie, Pieter, Mari.

PS: Wat die tasse aanbetref, Mari dring daarop aan dat ons net noem dat sy en Marike se tasse nie só groot was nie...

Friday, 1 July 2011

Dag 1 - Vanaf Bloemfontein na Groot Marico

Nou ja, gepak en gery.  Maar die meisies pak nie lig nie, en padkos is n noodsaaklikheid soos wat ek nog nooit besef het nie!  Dus, die bakkie en die waentjie is GELAAI!  Daar is nog iets wat ek agter gekom het - die mens n vrees om sonder toiletpapier gevang word.  Elkeen het met n allemintige pak aangekom, met die gevolg die bakkie sekerlik helfte net witgoud is!

Dis was maar n lang rit, en ons het net voor donker by ons kamp plek uitgekom by Groot Marico.  Eers het die gasheer ons so bietjie geirriteer, omdat hy heeltyd wil gesels. Later het hy egter n bottel mampoer of 2 uitgehaal, en toe gaan die kuier sommer beter.  Nee, dit is nie so erg nie, maar tog was dit n interessante aand.

Nog n ding wat ons geleer het - tradisionele mampoer is n ander woord vir onwettige mampoer, maar wat my aanbetref - hulle smaak almal dieselfde.  Groot Mariko is ook net so koud soos Bloem in die aande, so n bed is n welkome ding!

More oggend 6uur uit die vere, sodat ons kan oppak, en betyds kan wees om die grensmanne nog lekker vars en vrolik te kan vang!

Hoe die konneksies in Botswana gaan wees, weet ons nie, dus sal ons maar sien wanneer ons weer kan opgaan en opdateer...

Groete!