Pages

Saturday, 9 July 2011

Dag 1 & 2 by Covenant College (Japie)

Nee kyk, kamp is lekker maar daar is min dinge wat kom by ‘n aand se slaap op ‘n regte bed!  Nadat Heinrich en Jacomien  ons  die vorige aand goed bederf het met ons aankoms het ons die volgende oggend lekker laat geslaap.  Dit was immers ons laaste kans vir leeglê.
Ons het die oggend van ons eerste dag op “kampus” by Bethlehem, (die huis waar die meisies bly) met ‘n stewige laat ontbyt (koffie en beskuit) begin.  Ons het toe vinnig die program vir die week deur gegaan en kort daarna het ons dit ook sommer afgeskop.
Phil (die Amerikaner & hoof van die Farming God’s Way projek by die College) is ‘n absolute legende.  Hy het ons ‘n “crashcourse” gegee in alles wat op die plaas en in die boerdery aangaan.  Dit is ongelooflik hoe hy die Woord gebruik het om ‘n eenvoudig-unieke en baie suksesvolle  konsep van boerdery te vestig.  Hy en sy span (Jackson en Samuel) dra ook die kennis aan die gemeenskap oor om sodoende die plaaslike boere (waarvan meeste bestaansboere is) te help om die meeste te maak van die bietjie wat hulle het.  Phil is ‘n bondel energie en dit is heel waarskynlik die hoof rede vir die omvang en diversiteit van wat op die plaas aangaan – hier kry jy enige iets van varke tot koffie, hasse tot chillies (Dinant en Japie was belaglik genoeg om aan die chillies te proe en dit het hulle met trane in die oë gelaat), mielies, hoenders, bye en natuurlik ‘n plant waarvan tee gemaak kan word om  Malaria die skrik op die lyf te jaag.

Phil is fanaties oor die organiese aard van die boerdery.  Hy doen dit in sy eie woorde nie om “groen” te wees nie maar bloot omdat dit prakties is.  “Nutritious” en “Nutrients” is sy gunsteling woorde en meeste van die bome en plante wat hulle kweek bevat minstens 12 ton daarvan.  Hulle het selfs twee klein sillos opgerig om die oeste in te stoor, om nie te vergeet van die steenoonde wat die bakstene voorsien waarvan al die geboue by die kollege gebou is.
Die res van die dag het sy gang gegaan, koffie is gedrink, klere is gewas en voor jy kon sê “nutrient”staan die volgende bord kos toe weer voor ons (dit alles te danke aan die kookvernuf van Mari en Marike).

‘n Baie lekker eerste dag het toe ook soos al die goeies voor hom tot ‘n einde gekom.
Dag 2

Laatslaap is defintief vir eers iets van die verlede.  Dag twee by Covenant College het met ‘n “bang” begin en het nie regtig momentum verloor voordat ons gisteraand die meeste van die lede kort na aandete aan Klaasvaakie en sy makkers afgestaan het nie.
Koffie was soos elke ander oggend die hoof bestandeel van ontbyt (die kans dat dit sal verander is skraal) en dit wat daarmee saam genuttig word is bloot ‘n bysaak of persoonlike voorkeur as jy wil.

Ons het die kans gekry om Petauke, sy mense en sy dinge van nader te bestudeer.  Izanne, Marike en Mari het vroeg-vroeg die pad dorp toe met Heinrich as toerleier aangepak.  Pieter, Eunice en Japie het saam met Mariana ( die Hollander en jeugwerker van die kollege) plaaslike skole en die kinder kliniek besoek.  Koot en Dinant moes egter op die plaas agterbly om vir Phil te help om ‘n erdwurm boerdery op die been te bring en het sodoende die reeds indrukwekende verskeidenheid van aktiwiteite op die plaas nog bietjie verbreed.
Petauke se straatmark is ‘n georganiseerde-chaos as jy al ooit een gesien het, die organiseerder is net nerens te vind nie.  Dit is ‘n belewenis soos min om te sien hoe die “locals” tweedehandse items verkoop soos splinternuwes, gedroogte vis eet soos ‘n stuk biltong en hoe hulle die kuns van “bargaining” vervolmaak het...hier koop jy ‘n stel redelik gemaklike vis-plakkies vir 4000 Kwachas of R6!

Die besoek aan die skole was ‘n ervaring wat selfs groot mans ‘n bietjie bewoë sou laat.  Ons het eers ‘n klein gemeenskap skool besoek wat net uit graad 1’s en 2’s bestaan, maar die ouderdom wissel tussen  vier en tien jaar oud (dit gee jou ‘n idee van hoe dinge hier werk – meeste van die kinders weet nie eers hoe oud hy of sy self is nie) .  Die naam van die skooltjie beteken in engels “to leave a footprint”, en met dit in gedagte het ons ‘n tydjie daar spandeer.  Die kinders hier was in ‘n intense sokker wedstryd betrokke met ons aankoms en die ongelooflike hiervan was dat hulle met’n bal wat van plastieksakke gemaak is gespeel het.  Ons kon hulle gelukkig hier uithelp met’n splinter nuwe “regte” sokkerbal, en toé speel hulle.  Daar was aan die einde nie regtig ‘n wenner nie, maar glimlagte was in oorvloed (dit was immers die doel van ons besoek).
Die volgende stop was by ‘n “volwaardige” laerskool soos ons dit noem.  Hier probeer hulle graad1’s tot 7’s meer leer van lees, skryf,die Bybel en enige ander basiese vaardighede (met die klem op probeer).  Graad 1-7 sit in dieselfde klein geboutjie (waarin stukkende vensters volop is) en word deur dieselfde onderwyser geleer van watookal hy of sy weet.  Hier is Eunice gevra om met gebed af te sluit en sy het onder redelike druk bewys dat sy in die pastorie groot gemaak is.  Pieter en Japie het die groter seuns in ‘n game “Afrika-sokker”  aangevat.  Pieter is herdoop tot “Pieda” en Japie was vir die duur van die wedstryd bekend as “Joppie”, en kyk hierdie outjies kan hardloop en dan nog bietjie hardloop.

Nadat ons die veld (nie sonder beserings) verlaat het is ons na die kinder kliniek in Petauke toe.  Eunice het haar handgemaakte poppe aan die hoesende en huilende kleintjies uitgedeel (‘n volle 24 van hulle).  Sommiges was meer beindruk as ander, maar niemand is met leë hande agter gelos nie. 
Dit sal verkeerd wees om nie ‘n spesiale getuines van Mariana se werk te gee nie.  Sy laat ‘n baie moelike taak belaglik maklik voorkom en iets wat ons in ‘n paar uur emosioneel en fisies uitgeput het is maar haar dagtaak.  ‘n Merkwaardige vrou!