Pages

Sunday, 17 July 2011

Oos, wes...

Uiteindelik is ons almal weer tuis...maar dit was nie sonder moeite nie!

Ons het afgelope Donderdag vroeg vanaf Covenant College vertrek.  Gelukkig het Jacomien ons bederf met 'n meneer van ontbyt, wat enige Jaco of Willie se maag sou vol maak!  Toe val ons in die pad, en ons eerste aand stop ons by Kariba meer.  Dis nou hoe 'n meer moet lyk!  Die kampplek was ook fantasties, met 'n kroeg wat op die 'strand' geleë is, met 'n bordjie - Beware of crocodiles!  Oulik.  'n Ander bordjie het gelees - beware of hippo's.  Die een mater wat daar gewerk het, het ons egter verseker dat hippo's jou vriend is, dus niks om te vrees nie!  Kariba meer was 'n goeie plek om moed te skep vir die pad vorentoe.

Die volgende dag is ons deur Lusaka, en siende dat Heinrich Track 4 Africa kaarte op ons GPS gelaai het, het dit aansienlik beter gegaan.  Eers het ons by Manda Hill Mall (Ja, n regte egte Mall!) gestop, en ons magies volgemaak met lekker Debonairs Pizza.  Toe is dit weer bakkies start, en die berugte Zambiese grenspos aandurf.

Hierdie keer was Dinant en Koot egter gewapen met 250 000 Kwacha elk, om nie weer gevang te word nie.  Alles loop toe ook sommer heel goed, maar helaas, ja, helaas was daar tog maar 'n kinkel in die kabel.  Die dame by die kantoor waar jy betaal vir die pond beweer toe dat ons nie die pond kan betaal met Kwacha's nie, want ons het 'foreign vehicles'.  Dus is Rande, Ponde, Euro's, Pula's en Dollars welkom, maar nie Kwacha's nie.  Dit help ook nie om met 'n regeringsamptenaar in Afrika te stry nie, dit is soos om met jou vrou te stry - jy gaan verloor.  Gelukkig was Eunice met haar rol dollars meer as bereid om ons daar uit te help, en kort voor lank was ons op die pond oppad Botswana toe.

In Botswana het alles geloop soos 'n Gereformeerde Sinode.  Ordelik en effektief. (lol!).  Behalwe dat ons lemoene gekonfiskeer is, want lemoene mag nie in Botswana in nie.  Dit maak nie saak dat ons dit van SA af gebring het, deur Botswana daarmee gery het, deur Zambie nie.  Lemoene moes bly.  Nou ja, nietemin is ons is toe so 15h00 deur die grense, en besluit om bietjie aan te stoot, en slaap die aand oor by 'n oulike kampplek, so 100km van Kasane af.  Daar kry ons toe die heerlike verassing dat hulle 'n restaurant het, want burgers en chips maak!  Dit het nie veel oortuiging gekos nie...

Volgende oggend vroeg op, en 06h00 val ons in die pad.  Hierdie keer wikkel ons lekker, en kom sonder enige boe's of ba's deur die Botswana en SA grens.  En weereens besluit ons om bietjie aan te stoot, en arriveer 14 ure se ry later, en 1400km in Centurion, Pretoria.  Daar slaap ons toe sommer oor by Dinant se ouers, wat beteken het dat ons nie kamp hoef op te slaan nie.  Dit was lekker, en nadat ons 'n middenagtelike biertjie geniet het, gaan slaap ons.  Die volgende dag (Sondag) kon ons slaap tot 7uur, want ontbyt was eers 08h00.  En dis hoe 'n ontbyt moes lyk.  Tannie Corrie Zwemstra het spek, eiers, worsie en toast gereed gehad, saam met 'n sappie, koffietjie, konfyt en kaas.  Mensig, dit was nou leeu lekker!!  En toe val ons in die pad vir die laaste skof Bloemfontein toe...

14h00 arriveer ons in Bloemfontein, en wag daar 'n hele erewag by die Pastorie.  Alma Kruger het ook gesorg vir bokse en bokse se pizza's wat ons almal saam genutig het, en toe moes ons groet.  Hartseer, maar waar.  Die voel soos 'n leeftyd wat in minute verbygevlieg het, gelukkig het ons hordes foto's om ons te herinner aan die goeie tye!

Terwyl ons saam die pizza gebruik het vir die doel waarvoor dit daar was, het Mari ons egter op die volgende gewys, en dit is sekerlik net reg dat ons dit noem:

Dinant was baie bevooroordeeld in sy blog-plasings ten opsigte van die Mazda/Toyota kwessie.  Die volgende feite is verswyg, en word nou genoem ter wille van volledigheid:
*  Die Mazda is 'n 4x4 en die Toyota 'n 2x4, en daarom dat die Toyota so nou en dan vasgeval het.
*  Die Mazda is 'n 2.5 en die Toyota 'n 3.0, en dis hoekom die Toyota eerder die boswaentjie deur die
    passe gesleep het.
*  Die Mazda moes meer gereeld by 'n dieselpomp gaan stop as die Toyota.
*  Die Toyota is wit.
*  Die Mazda ook.

Dankie vir almal se ondersteuning en gebede.  Ons is bitter dankbaar dat ons Hemelse Vader ons tot veilig tuis besorg het, ons besef dit is net genade.

Groete aan Covenant College.

Bloempark-Zambie Uitreik span
Dinant, Koot, Japie, Pieter, Marike, Mari, Eunice en Izanne

No comments:

Post a Comment