Vandag het ons die laaste paar dinge afgehandel. Dinant het nog bietjie klas gegee, en moes daarna pose vir n magdom foto's saam met elke student, individueel. Toe is die klere wat ons saamgebring het vir die studente uitgedeel, en die middag is ook weer rekenaar klasse gegee.
En toe, wel, toe begin ons maar afskeid neem van almal, want daar is 'n tyd van kom, en 'n tyd van gaan. Vannaand het ons huisbesoeke gedoen, gekuier by al wat leef om vir almal totsiens te se. Die Lachmans het ons bederf met 'n uitermate bo-gemiddelde leeu-lekker bord kos.
Nou ja, dit is nooit lekker om afskeid te neem nie, maar nie als in die lewe is net lekker nie.
Ons het vannaand ook 'n laaste besinningsvergadering gehad saam met Heinrich en Jacomien. As dit een ding is wat uitstaan, dan is dit dat almal voel hulle gaan met meer hier weg, as wat hulle gekom het. Dit was inderdaat 'n belewenis wat almal van ons nog lank sal bybly!
Die volgende paar dae se rit terug gaan stewig wees! Dinant en Koot kry al klaar koue koors en uitwendige hoendervleis as hulle aan die Zambiese/Botswana grenspos dink. Dit is mos maar 'n Jaco of Willie van ander kleur! Gelukkig het ons 'n stewige klomp goed hier afgelaai, so die bakkies en waentjie is nie naastenby so gelaai soos wat dit was oppad hierheen nie.
Ons gaan sekerlik nie weer internetverbinding he nie, so dit is waarskynlik ons laaste plasing, tot ons weer in SA is.
Ons bid Covenant College se 'staff' al die seen van die Here toe, mag die werk wat hier gedoen word groei tot voordeel en uitbreiding van God se koninkryk. Mag ons elkeen, op ons eie manier gebruik word as instrumente in Sy Hand.
Totsiens Heinrich, Jacomien en kinders, totsiens Marjanne, totsiens Phil, totsiens David, Katie en kind. Totsiens Jackson, Nelson, Samuel en Bilison.
Laat Heer U seen oor hul daal...
No comments:
Post a Comment