Pages

Friday, 8 July 2011

Covenant College (Dinant)

Dit is baie interessant dat 'n groep wat so saam toer later sy eie taal onwikkel, en dit is maar 'n mengelmoes van woorde wat ontstaan, en nie almal verstaan dit nie.

So het Koot ons byvoorbeeld geleer dat die woord 'leeu' voor enige iets geplaas kan word om dit in 'n oortreffende-oortreffenste trap te gebruik.  Dit kan warm wees, baie warm, onuithoudbaar selfs, maar as dit leeu-warm is, dan moet jy weet!  Enige iets kan ook geleeu word.  Kos kan leeu-lekker wees, die pad kan leeu-ver wees, en daar kan leeu-baie slaggate wees.

Japie is weer lief vir die woorde 'hectic' en 'intens'.  Hectic of intens kan in enige situasie gebruik word, en kan positiewe sowel as negatiewe betekenisse he.  Jy kan dit selfs saam gebruik, as iets hectic intens is, dan was dit of baie oulik, of glad nie lekker nie, maar afhangende van die gesigsuitrukking kan mens dit reg interpreteer.  Chobe was hectic, selfs hectic intens, maar so was die Zambie grenspos ook, en dit dui op heeltemal verskillende ervarings.

'n Ander uitdrukking is 'O, Jaco!' of 'O Willie!'.  Japie en Pieter is veral verlief op hierdie uitdrukkings.  Ek is nie seker wie Jaco en Willie is nie, maar ek dink elke mens mag maar vir homself enige naam kies om skok, verbasing, skrik of enige ander emosie uit te druk.  Weereens kan dit of goed of sleg gebruik word.  Dit kan ook gebruik word as 'n plaasvervanging van woorde wat jy nie kan onthou nie.  Maar dan kan dit soms verkeerd uitkom.  Byvoorbeeld, as jy iets wil se oor klem in die kaak, maar jy vergeet die woord 'kaak' dan voeg jy net eenvoudig 'Jaco' of 'Willie' in.  Ongelukkig gaan nie almal jou verstaan as jy vir hulle vertel jy het n 'klem in die willie' nie...

Om 'kapsie te maak' dui in normale Afrikaans daarop om beswaar aan te teken oor iets.  Pieter het ons egter daarop gewys dat dit ook universeel gebruik kan word.  'n Bord kos kan byvoorbeeld kapsie maak, bedoelende dit is baie lekker, maar 'n krokodil kan ook kapsie maak, bedoelende hy is gevaarlik.

Die laaste woord vir vandag se les is die woord 'mal'.  Mal-baie, mal-lekker, mal-cool, ag, enige iets kan mal wees.  Maar as 'n ding mal-hectic-intens is, dan ou maat, sal jy moet kapsie maak om enige Willie of Jaco naby dit te bring!

BY DIE COLLEGE

Vandag het verskillende dinge gebeur.  Japie, Pieter en Eunice het 'n skool of twee gaan besoek, waar hulle met die kinders gespeel het, en sokkerballe oorhandig het.  Die vreugde was oorweldigend, maar Japie gaan eersdaags meer daaroor skryf op die blog...

Die ander meisies was saam met Heinrich Petauke toe vir inkopies, en dit is baie interessant wat jy daar kan kry - klere, gedroogte wurms, gedroogte vis van alle soorte, radio's, selfs bande en 'n tweedehandse dryfas van 'n bakkie of trok wat iemand erens opgetel het, en wil verkwansel. 

Die middag het die dames bietjie die biblioteek aangeval, siende dat 'n swems vlermuise daar ingetrek het, en op alles gemis het.  Eintlik die boeke raak gemis het.  Dus moet alles skoongemaak word!  Hierdie taak is nog nie afgehandel nie, en more sal daar voortgegaan word daarmee.

Die uwe, sy eerwaarde die skrywe van hierdie stuk, en Koot was by die plaas, en het saam met Phil (die plaasbestuurder) 'n plek gebou waar Koot se geliefde erdwurms kan woon.  Met stene het ons 'n houer gebou, met plastiek hom uitgevoer, en grond en wurms binne in gesit, en bedek met gedroogte gras om die vog binne te hou, en viola, daar is 'n mal-cool kompos-makende sisteem!  Natuurlik en effektief.  Het jy geweet 'n erdwurm is tweeslagtig (manlik en vroulik), en as jy hom in die helfte breek is daar eenvoudig twee wurms.

Die middag is ons saam met Phil dorp toe, om hoenders te gaan verkoop aan 'restaurante'.  Dis interessant.  Hoenders word uiteraard lewendig verkoop, en soos wat die kliente die kos bestel, word die hoenders geslag.  Varser as dit gaan jy nie kry nie.  Hoenders het hoegenaamd geen reg op lewe in Afrika nie, en selfs kinders van 3 jaar sal nie 'n oog knip om een keel af te sny nie.

Die merkwaardige van die middag was dat 'n vrou op die plaas gou-gou onder 'n grasdak gekraam het.  'n Paar uur later, en sy gaan gewoon aan met haar werk!  En ons dog die boere-tannies wat kaalvoet oor die berge is, is taai!  Kinders kry is iets wat die Afrika-mens verstaan.  Een van die werkersters op die plaas is byvoorbeeld 34, en al twee keer ouma!

More gaan ons voort met biblioteek skoonmaak, en die 'generator' moet gediens word, en die middag is hier 'n kinderbediening van ongeveer 100 kinders.  Die aand kuier ons dan saam met al die mense wat hier doenig is, en dit word 'n 'food and fellowship' genoem.

Nou ja, groete vanaf almal hier!  Ons klets een van die dae verder...

No comments: