Pages

Tuesday, 12 July 2011

Veels geluk liewe maatjie!

Vandag het Mari verjaar, en ek glo dat sy nog so mooi jonk is dat sy ons nie sal kwalik neem as ons haar ouderdom verklap nie – n volle 23 vandag!  Dus het ons haar vanoggend wakker gemaak, vir haar gesing, en ’n geskenkpakkie vir haar gegee met die beste wat ons in Petauke se ‘mall’ kon kry. 
Daarna is ons inderhaas na die opening van die College toe, waar ons geluister na die reiniging van die tempel, David Lachman (die Amerikaanse Skot of Skotse Amerikaan, ons is steeds nog nie seker nie...) vir ons gepreek het.  Die man mag maar preek, en ons almal het dit werklik opbouend gevind!  Daarna was dit tyd vir afkondigings, en vrae van die studente af – dit het nogals leeu-lank gevat, maar gelukkig het dit ook op ’n einde gekom.

Na opening moes Dinant bietjie klas gee, en dit loop soos volg:  een van die studente bid, en daarna is dit klas vir ’n uur, dan word daar afgesluit, en breek die studente vir 5 minute.  Daarna word daar weer geopen, klas vir ’n uur, en afgesluit.  Dinant was bietjie skrikkerig om klas te gee, omdat die meeste studente baie ouer as hy is, en langer in die bediening.  Maar, nadat hy vir hulle vertel het hy is getroud, en het kinders, het sy gesag aansienlik gestyg!  Vir Zambiane tel dit baie as jy getroud is, ongetroudes weet nie regtig waarvan hulle praat nie.  Selfs Cobus (Heinrich se seuntjie) het al daarin verval, en weier volstrek om Japie ‘oom’ te noem, want Japie is nog nie getroud nie!
Die afgelope 2 dae moes ons ook twee troepe aan die bed afstaan, siende dat een of ander inwendig Zambiaanse kwaal vir Pieter en Marike platgetrek het.  Gelukkig is daar min dinge wat goeie rus en slaap nie kan uitsorteer nie, en hulle is altwee weer stukke beter, waaroor ons dankbaar is.

Middagete het ons Mari met ’n slinkse plan gevang, en haar met ’n piekniek langs ’n klein dammetjie water, in die veld verras.  Chips, selfgebakte (deur Japie, Izanne en Heinrich) sjokolade koek, bottel water en marshmellows was op die spyskaart.  (Hiervoor is ’n vars pak marshmellows oopgemaak)  Ongelukkig toe ons wil terug ry huis toe, val die Toyota in die modder vas, maar die Mazda was daar, om nederig en getrou soos sy eienaar, die Toyota uit sy verknorsing te help. (Ek hoop Dirk Kruger lees hierdie blog...)
Die middag is ons toe in twee groepe opgedeel, om die studente rekenaar opleiding te gee.  Baie dinge wat vir ons vanselfsprekend is, is nie altyd so vanselfsprekend nie.  Ons moes fisies die studente leer wat is ’n ‘keyboard’, ‘mouse’, ‘screen’.  Hoe om MS Word oop te maak, hoe om te tik, hoofletters te tik, letters uit te vee en ’n dokument te ‘save’.  Maar dit is wonderlik om te weet dat mens darem iets nalaat as ons weggaan.  Dit is ook wonderlik om te sien hoe gretig die studente is om te leer, en hoe dankbaar hulle is vir die kleinste bietjie hulp wat hom kan vorentoe vat.  Werklik vervullend!

Die aand het ons Mari se verjaarsdag afgesluit met ’n braai (hoe dan anders?).  Steak en wors op die kole, saam met ’n braaibroodjie, slaai – liplek lekker!
Ons as groep is vreeslik mal oor die mense wat hier werk, dit is ’n gawe klomp mense om die minste te sê, alhoewel ons dink dat hulle dink ons is bietjie oorweldigend.  Veral Marianne (die Nederlandse dame wat met Christian Education Ministries werk hier) dink Suid-Afrikaanse mense is die gekste goed ooit!  Leeu-mal!  Ons is merkwaardig - in Nederlands beteken merkwaardig jy is 'weird'!  Maar ons het baie pret en plesier saam met haar!  Sy is ook van harte oortuig dat Suid-Afrika die vreemdste predikante het.  Gelukkig is ons almal haar baie liefgekry in hierdie kort tydjie, ten spyte van alles! ;-)

Nou ja, more is dit weer klasgee, rekenaaropleiding, en dan die groot pak, want Donderdag vroeg vat ons die groot trek terug huis toe.  Die aand is ons genooi vir ete by die Lachman’s, en dan is dit vir ons almal hier ’n tyd van afskeid.  Dit gaan verseker ’n hartseer oomblik wees, en ons sal maar die tissues naby moet hou...
Elkeen van ons gaan ’n stuk van ons hart hier los.  Dit is ongelooflik hoe die plek en die mense in ons almal se harte gekruip het. 

Terwyl die laaste woorde van hierdie blog-plasing geskryf word, kom die woorde van Johannes Kerkorrel se lied onwillekeurig by mens op: “Gee jou hart vir Hillbrow...”  maar dan pas mens hom net so bietjie aan, en terwyl jy ’n rollende traan van jou wang afvee, sing jy saggies: “Gee jou hart vir Zambië...”

No comments:

Post a Comment