Pages

Thursday, 7 July 2011

DIE REIS VANAF GROOT MARICO NA PETAUKE

Hoe dieper mens in Afrika ingaan, hoe interessanter word die pad!  Botswana het ons almal egter verbaas.  Ons is deur die Suid-Afrikaanse grens, en meer ongeskikter grens-beamptes kan mens nie kry nie, maar ons almal ken maar die dinge in SA.  Aan die Botswana kant was dit egter ’n heel ander storie!  Die mense is gaaf en behulpsaam, maak grappies, en heet jou welkom!  Wat ’n belewenis, en die snaakste van alles is die paaie – splinternuut, sonder tolpaaie.  Ons gooi sommer diesel in by die eerste petrolstasie wat ons sien – Puma.  Daar kry ons Puma-diesel vir R7,35/liter.  Dis sommer ’n plesier, mens ref sommer die bakkie ekstra hard, net omdat jy kan!  Botswana is mal-cool, om hedendaagse Afrikaans te gebruik!

Die eerste aand in Botswana slaap ons in Francistown, by ’n kampplek met die naam Tati.  Die interessante was dat toe ons daar aankom die prys 75 Pula per persoon was, maar omdat hul kaart masjien af was, kon ons eers volgende oggend betaal.  Die volgende oggend was daar ’n ander dame aan diens, en toe is dit maar 50 Pula per persoon.  Maar dit was heerlik om lekker warm te kan stort, om ’n vuurtjie te kuier en sommer net die aand te geniet!  Die een paal wat die tent-waentjie se tent regop hou het op ’n manier gebreek, maar daar is niks wat ducktape nie kan regsien nie! 
Volgende oggend is ons op, en na ’n Oatso-Easy in die maag, vat ons die pad Chobe toe.  Daar aangekom, sukkel ons toe om ’n kampplek te kry, want die GP’ers is die plek vol!  Gelukkig is een van die eienaars van die lodges daar baie vriendelik, en bel vir ons ’n klompie plekke, en kon ons ’n slaapplekkie kry vir die aand.  Baie lekker rustig, en teen hierdie tyd slaan ons al kamp op, vinniger as wat jy Botswana kan sê.  Kort voor lank is ons weer om ’n vuurtjie van paar stukke hout vir 15Pula.  Hier slaap ons twee aande, dus was dit nie nodig om die volgende oggend saam met die olifante op te staan nie.  En ’n goeie afwisseling op koffie, beskuit en Oatso-Easy was ’n ontbyt van spek, eiers, uie-ringe en brood!  Wat ’n fees! 

Nou ja, so raak dit toe nou tyd om Chobe toe te gaan, en 120Pula per persoon later is ons in.  Mense, wat ’n mal-hectic-kapsie-makende-belewenis!  Chobe is nie perde koop nie (om sy edele Pieter Vermeulen aan te haal).  Dit is sekerlik van die oulikste plekke hierdie kant van die ewenaar!  Dis olifante sover as wat die oog kan sien, om van die seekoeie nie eers te praat nie!  En kameelperde, arende, vlakvarke, bokke, koedoe’s, selfs ’n allemintige likkewaan wat die pad oorgesteek het!  Uit die aard van die saak maak so klomp vleis by mekaar mens honger, dus stop ons toe maar langs die Chobe rivier om ’n ete te geniet van sappies, kasies, Pro-vita’s, appels en muesli-bars.  Self ’n biertjie was nie te versmaai nie.  Dit was Koot wat met sy skerp wilds oog ons daarop gewys het dat die krokodilste krokodil nie ver van ons af lê en slaap nie!  Van die manne is toe ook nie links nie, en storm soos wafferste chinese toeriste met kamera’s nader om ’n close up-foto te kry soos wat crocodile dundee nog nie kon kry nie, tot ’n veldwagter se groot ontsteltenis!  Toe ry ons maar verder, en dit was nie lank nie, toe val die Toyota in die sand vas, en nie eers Chuck Norris kon hom daar uithaal nie (en Chuck Norris kan nie net op water loop nie, hy kan ook op land swem!).  Darem, ja, darem was daar ’n Mazda wat sommer gou-gou die Toyota kon uitsleep!  Die awesomeness hou nie op nie, en daar is nog vele diere wat voorlê, maar die son sak ook in die Chobe, en moes ons begin om weer kamp se kant toe te staan, maar helaas, en die Toyota steek vas soos ’n Afrika donkie in die sand.  Hierdie keer kon ons egter hom daaruit kry sonder die Mazda.  Toe ons wegtrek kon ons hoor hoe die Mazda onderlangs grinnik soos die maag van ’n honger Chobe-leeu.
Nou ja, nadat die bure die jonges stil gemaak het, kon ons gaan slaap, sodat ons die volgende more sommer vroeg oor die grens Zambie kan ingaan.  Ons wou toe natuurlik eers die bakkies se tenks volmaak met goedkoop diesel, maar helaas, die Engen het nie diesel nie.  Dit kos toe ’n hele klomp kilometer terug ry, om ’n Shell te kry waar ons kon volmaak.  En nadat ons verby ’n ry van 51 trokke gery het, kom ons by die grenspos... En toe is dit die grenspos...!

Eers moet mens oor die Zambezi rivier met ’n pond.  Daar staan drie ponde, maar twee werk nie meer nie, en THIS IS AFRICA, so niemand is lus om hulle reg te maak nie.  Daar is mos nog een wat werk!  Sy ramp kan egter ook nie meer oplig nie, dus stoop hy maar die ramp deur die water, en stamp hom teen die kant.  En as hy staan, stroom die mense van hom af, en moet jy roer om met die bakkie op te kom.  Saam met die bakkie stroom die helfte van Botswana se bevolking ook op, en dan stamp hy so 10 minute later die ramp aan Zambie vas, en roer jy om af te kom.  Dit was nou nadat ons kamera-mal fotograaf (Eunice) alles keurig en dubbel, van alle hoeke af afgeneem het.
By die Zambie-grenspos kry Dinant en Koot amper ’n dubbele hartaanval, drie beroertes, nierversaking en inwendige Cholera.  Kyk, bietjie chaos is lekker, maar die chaos op Zambie se grenspos is onbeskryflik en onbegryplik.  Almal stop waar hulle wil, en dan raas die hekwag met jou omdat jy daar stop, en as jy vra waar moet jy stop, ignoreer hulle jou.  Dan kry jy manne wat jou gryp, en jou help om te gaan waar jy moet gaan, hulle druk jou sommer voor in die ry in vir die paspoorte se stempel, maar there is no such thing as a free lunch!  Ongelukkig word Dinant en Koot gevang met geen Kwacha’s (Botswana het nie gehad nie), en net Pula’s, rande, en dollars.  En telkens dink die manne sommer hul eie wisselkoers uit.  Byvoorbeeld, die normale wisselkoers vir Rand/Kwacha is 700K vir R1.  Die manne werk dit daar uit op 300K vir R1.  Toe Dinant vir die ou sê dat die rentekoers anders is, sê hy eenvoudig dit is die rentekoers hier op die grens.

Gelukkig is ons daar weg, met leë beursies, maar ons het darem ons geloof behou, en soos goeie doppers nog vriendelik vir almal gewaai ook!
Toe is dit Livingston, en die Vic-valle.  Mensig, soveel water het Chuck Noris nog nie eers gesien het, en wat ’n gesig!  Jy moet die self sien om dit te beleef.  En ons het maar reënjassies gehuur om droog te bly, want jy reën fisies en letterlik nat van die sproei van die valle.  Dit maak ’n mens nederig voel en ons almal het net weer die Almag en Grootheid van ons Here besef...

As mens die grensposte vergeet, is Zambië ’n interessante land!  Die mense is vriendelik, en die polisie manne wat jou elke nou en dan aftrek stel nie belang in jou lisensie of enige iets nie.  Hulle wil net ’n bewys hê dat jy derde party versekering het, dan voel hy beter, en mag jy weer ry.
Afrika bly egter Afrika, en ons GPS het toe nie Lusaka se strate op nie, met die gevolg dat ons agter ons neuse begin aanry, en in die grootste verkeer gemors beland op die derde planeet van die son af.  Bane is opsioneel.  Verkeersligte is daar om oortollige krag te gebruik, en rooi beteken enige iets behalwe stop.  Marike en Koot was die twee bestuurders wat egter kop gehou het, ten spyte daarvan dat die res van ons nou nog aan ligte breinskade lei van stress.  By die een vulstasie rol daar ’n ‘random’ band uit ’n plek uit, in Koot se nuwe Toyota Legend 40 in!  Gelukkig geen skade nie!

In Lusaka het jy die voorreg om diesel in jou bakkie te gooi, en dit kos jou om en by 800 000 Kwacha!  Dink bietjie daaroor...
Nou ja, gelukkig kry ons ’n mall, en dit is ’n stuk beskawing in chaos.  ’n Eiland in die see van verwarring.  ’n Oase in die woestyn van mal-hectic-verkeer.  Nie knope nie, glad nie, die verkeer vloei, of dit nou kan of nie, dit vloei!!  By die mall kon ons ’n heerlik broodjie eet vir 32 000 Kwacha.

Goeie goed kom ook tot ’n einde, en val ons in die pad.  Gelukkig was die Chinese regering baie gaaf, en het ’n netjiese pad met ’n sirkel en alles vir Zambie gebou, en is ons op die Great Eastern Hiway.  Dit is nie great nie, ook nie ’n highway nie, maar dit is Eastern, wat belangrik is, want dit is waarnatoe ons wil gaan. 
Zambië se nasionale vervoermiddel is fietse.  En ’n fiets kan enige iets doen, hy kan gebruik word as ’n kruiwa – jy laai hom met alles, en stoot hom dan.  Of ’n taxi.  Jy trap, en laai ’n vrou en ’n kind of twee agter op.  Dit kan ook gebruik word as ’n lorrie, jy rol twee drie-meter sinkplate op, en maak dit aan die kant van die fiets vas.  Ongelooflik.  Die fietsers hier ry ongelukkig waar hy kyk, as hy dus ’n kar hoor aankom, kyk hy om, met die gevolg dat sy fiets ook draai, en as jy nie wakker is nie, sal jy sommer oor hom ry!

Nou ja, ons kom die aand laat by Moorings aan, en nou slaan ons al kamp op, vinniger as Chuck Norris, vir die bargain prys van 25 000 Kwacha/persoon ($5 pp).  Heerlik, daar is krag, maar hier gebruik hulle die Engelse proppe, en niemand het adapters nie, maar wie soek nou krag as jy gas het?  Moorings is die plek se naam, en ons is die enigstes daar, so niemand kom maak ons stil nie, maar almal is elk geval moeg.
Volgende dag, vroeg oggend begin een of ander aap sy kar se radio speel (ons het ’n vermoede dit was Dinant), dus staan ons toe maar op, eet Oatso Easy, en val weer in die pad vir die laaste stuk na Petauke toe.  Die pad tot dusver was lekker, maar nou is daar slaggate waarin olifante verdrink, so elke nou en dan moet jy kies tussen ’n groot gat en ’n groot gat.  Dan kies mens maar die groot gat.  Die interessante is as daar ’n bus of trok van vooraf kom, en hy en jy besluit om dieselfde groot gat te mis, maar in dieselfde rigting.  Ons is deur die passe, oor die Luanga rivier, en in die donker by Covenant College.  Gelukkig is Heinrich en Jacomien toe reg vir ons, en kort voor lank smul ons soos honger honde aan ’n heerlike bord kos.  Hier hoef ons darem nie kamp op te slaan nie, en kon ons almal heerlik in ’n bed slaap...

Nou ja, hier het ons darem weer internet, so ons kan hierdie blok meer gereeld opdateer, so hou maar dop...
Tot volgende keer!

Groete!

Bakkie AB (altyd betyds): Dinant, Eunice, Izanne, Marike.
Bakkie BA (bietjie agter): Koot, Japie, Pieter, Mari.

PS: Wat die tasse aanbetref, Mari dring daarop aan dat ons net noem dat sy en Marike se tasse nie só groot was nie...